Copyright © Juventis | Website Design by Juventis Studio
SOMERONVRUGBAARHEID BY VARKE
Dr DP Visser - LNR – DVI, Irene
Inleiding
Die primitiewe mens uit die Jonger Steentydperk, ongeveer 8 500 jaar gelede, het die eerste daadwerklike poging aangewend om die wilde vark mak te maak. Volgens
Zeuner het die proses van mak maak in vier definitiewe fases plaasgevind. Waarskynlik lê die wortel van someronvrugbaarheid gesetel in die derde en vierde
makmaakfases van die vark!Die derde fase — Die primitiewe mens het al hoe meer oor die vark begin leer. Sy stimulering, insig en
ervaring met die gasspesie het daartoe gelei dat daar begin is om varke te selekteer op grond van “gewensde” eienskappe soos byvoorbeeld vir temperament en
saggeaardheid — want om destyds varke te kon vang was nie maklik nie. Heel dikwels het hond, ruiter en perd erg deurgeloop. Geen wonder dat die gesogde beer-jag
(“boar hunt”) ’n hoogtepunt op die jaarlikse jagkalender was nie!
Selektiewe terugkruising na die wilde vark (bekend vir sy seisoenale teelprogram en fisiologie) het waarskynlik groter diere tot gevolg gehad met ‘n groter ekonomiese
waarde. Hierdie fase kan inderdaad met doelgerigte seleksie geassosieer word. Gedurende die vierde fase het die aanvanklike wilde vark (geneties geprogrammeer om te
paar en jong volgens die jaarlikse biologiese ritme van die seisoene ten einde ten volle in harmonie met die natuur saam te leef) geen verdere bydrae tot die “nuwe
verbeterde ras” gemaak nie. Kruisteling of selektiewe terugkruising met en na die wilde vark is gesien as ‘n swak praktyk met ‘n baie slegte invloed. Hoewel die
makmaak-era van Sus scrofa en Sus domesticus, gemeet aan die totaliteit van evolusie, maar ‘n klein fraksie van die tyd is, het dit onteenseglik gelei tot belangrike
morfologiese en fenotipiese veranderinge by die vark.
SOMERONVRUGBAARHEID
Hoewel someronvrugbaarheid (of te wel die Someronvrugbaarheidsindroom) al deur baie navorsers op verskillende kontinente nagevors is (word), blyk dit ‘n probleem te
wees wat hom hoofsaaklik manifesteer in lande met baie warm somers soos Australië, Suid-Afrika, Suid-Europa, Brazilië en die VSA.
Kliniese simptome van die Someronvrugbaarheidsindroom
1.
Die
jongingstempo
van
sôe
wat
gedek
word
in
die
winter
(Einde
Mei
tot
Augustus)
is
gewoonlik
drie
tot
vier
persent
hoër
as
sôe
wat
gedek
word
in
die
somer
(November tot
Februarie).
2. Sôe wat jaarliks aborteer, bereik gewoonlik ‘n piek in Maart, wanneer ongeveer elf persent van die sôe aborteer en ‘n laagtepunt in Oktober wanneer slegs ongeveer
ses persent van die sôe aborteer.
3. Hittestres van die sôe, hetsy deur uitermate hoë temperature en onvoldoende afkoelingsfasiliteite — of deur hoë temperature en hoë humiditeits-vlakke, speel ‘n
groot rol.
4. Hittestres beïnvloed ook die bere. Enersyds ‘n inhiberende effek op libido en ferromoonsekresie en andersyds op spermatogenesis wat eers vier tot vyf weke later
ná ekstreme temperature (29⁰C – 32⁰C of hoër) gemanifesteer word in sub-optimale semenproduksie en semenkonsentrasies. Wyle Professor Jan Bonsma was van mening
dat “die mees sensitiewe aanpassings-indeks by alle diere is hulle vermoë om gereeld te produseer en reproduseer. Die endokrienebalans is die mees sensitiewe
barometer van ‘n dier se vermoë om by ‘n bepaalde klimaat aan te pas”.
5. Someronvrugbaarheid bly in wese ‘n komplekse sindroom. Dit word beïnvloed deur klimaatstoestande (reënval, humiditeit, temperatuur en dagliglengte) binne die
strekking van gedifferensieerde bioklimaat areas (streke), die teenwoordigheid van mikotoksiene, die genotipe en endokriene balans van die dier, omgewingsfaktore en
bestuursaspekte.
6. Gedurende die piek somerseisoen in Suid-Afrika dra die volgende faktore almal by tot ‘n groter intensiteit van die Someronvrugbaarheidsindroom en derhalwe
swakker reproduksie in die gemiddelde varkkudde in Suid-Afrika:
swakker konsepsiesyfers
sôe wat herhaaldelik terugkeer tot die beer (of tydens KI)
aborsies [waarskynlik as gevolg van die teenwoordigheid en invloed van mikotoksiene, veral ZEN, maar daar mag verskeie (honderde) ander swam- variante ook
betrokke wees]
verlaagde beerlibido (en verminderde ferromoonaktiwiteit)
swakker semenkwaliteit
7. Dit blyk dat daar ‘n direkte verband tussen die ZEN-vlakke in die voer en konsepsiesyfer by sôe is. Dit is bekend dat sekere mikotoksiene wel vrugbaarheid by
jong sôe en sôe inhibeer vanweë hulle estrogeniese eienskappe.
RIGLYNE OM DIE SOMERONVRUGBAARHEIDSINDROOM BETER TE BESTUUR IN SUID-AFRIKA
1. Ontleed jou eie kudde se reproduksiesyfers die afgelope drie tot vier jaar statisties en kyk of jy ‘n betekenisvolle tendens kan waarneem en wat die omvang van
someronvrugbaarheid in jou kudde is.
2. Moontlik doen produsente-oorparing gedurende die piek somermaande en ondervind oënskynlik geen probleem nie. Dit is nie te sê daar is nie ‘n
someronvrugbaarheidsprobleem nie – dit word dalk net beter verbloem/ bestuur.
3. In kuddes wat oorwegend bere gebruik, is dit wenslik om van KI en natuurlike paring of slegs KI gedurende die piek somermaande gebruik te maak.
4. Sorg dat semen van geakkrediteerde KI-stasies verkry word wat die gehalte van semen 52 weke van die jaar en sewe dae van die week kan waarborg.
5. Waar van natuurlike dekkings gebruik gemaak word, moet die beerhuis veral in die somermaande koel gehou word hetsy deur waaiers, lugversorging (in ekstreme
gevalle), ‘n water missproei, insulasie van die dak, die natspuit van die bere en die vloer met gepaardgaande lugvloei. Noodwendig is termometers ‘n voorvereiste in dié
verband.
6. Onthou die effek van uitermate hitteblootstelling (> 28°C) in die geval van die beer word eers vier tot sewe weke later gemanifesteer in verlaagde semenproduksie,
swakker semenkwaliteit en sôe wat nie beset raak nie.
7. In die geval van sôe sal normale bevrugting, embrioniese ontwikkeling en embrioniese vrektes deur uitermate hoë hitteblootstelling geaffekteer word – wat
gemanifesteer word in verlaagde reproduksie.
8. Sogenaamde dripverkoelers kan aangewend word digby die ore van die vark ten einde optimale verkoeling te verseker — juis by die gedeelte van die liggaam waar die
bloedvate nader aan die vel is.
9. Luiser en verstaan die lyftaal van die sog. Sy gaan vir jou vertel as sy ongemaklik is. Hou haar eerder te nat as te droog in die somer(die ouer of konvensionele
kraamsale) of sorg dat die ventilasie in die kraamsaal reg gekalibreer is en die elektroniese waaiers en luikvensters werk(die modern kraamsale). Sorg dat sy deurgaans
en ongehinderd voldoende vars, koel water inneem en dat die water se drukking voldoende is.
10. Hou die termometers op die plaas en in die verskillende sale dop en tree voorkomend op deur in die somer die vooruitgeskatte weeklikse maksimum temperature,
hittegolwe, humiditeit- en ongemaklikheidsindekse dop te hou.
11. Uitermate hoë hittestres gedurende laktasie beïnvloed ook inname van die sog, haar melkproduksie, die groeivermoë van haar varkies en het ‘n verlengde speen tot
estrus- siklus tot gevolg. Bespreek die inname van ‘n hoë digtheidsdieet gedurende laktasie met jou voedingkundige. Dit gaan veral oor die vrystelling van voldoende en
vrugbare ova in die volgende estrussiklus.
12. Gegewe die feit dat betekenisvol hoër mikotoksienvlakke in die somervoermonsters van die binneland gevind is, moet die aspek aangespreek word. Om die ware
stand van mikotoksiene op jou plaas te bepaal moet biede ZEN en DON ontleed word (verkieslik gedurende winter en somer).
13. Afhangende van die uitslae moet die stoor van voer ondersoek word, die tipe silo’s in gebruik, die bron vanwaar die mielies verkry is en hoe lank die mielies gestoor is
(word) voor gebruik. ‘n Hoë druk stoom skoonmaak van silo’s elke ses tot 12 maande hou verdere voordele in vir die algemene siektestatus in die kudde, vermindering in
mikotoksienvlakke en beter algemene produksie in die kudde.
14. Die gebruik van produkte soos ‘n deaktiveerder van mikotoksiene in nie-herkouervoere, in gevalle waar mikotoksiene wel ‘n probleem is of as ‘n ekstra
versekeringspremie, veral gedurende die somermaande in die binneland word, aanbeveel.
15. Die gebruik van sintetiese beer- ferromoon (wat 16-androsteroon as die aanwakkerende ferromoon bevat) gedurende die piek somermaande word sterk aanbeveel.
Sulke produkte word reeds vir ‘n geruime tyd deur ‘n aantal stoet- en kommersiële boere in Suid-Afrika gebruik. Dié produk is ‘n gemikroniseerde sproei wat sinteties
geproduseerde androstenoon bevat as aktiewe bestanddeel. Androstenoon in sy natuurlike vorm is verantwoordelik vir die stimulasie van seksuele gedrag in die vroulike
dier — beide voor dekking sowel as gedurende dekking. Die sproei word aangewend deur drie of vier vol spuite naby die snoet van die vroulike dier voor dekking of
inseminasie.
16. Redelik onlangse navorsing in Suid-Afrika met betrekking tot fotoperiode het aangetoon aan dat die vermindering van dagliglengte in die somer tot 10 ure lig en 14
ure donkerte ‘n voordelige effek het op sekere komponente van vrugbaarheid soos ‘n hoër jongingstempo in die vroeë somer en verhoogde werpselgrootte.